In 1976 het Ronnie Louw van Hopefield teen die All Blacks Uitgedraf

Die huidige rugby-toer van die Britse Leeus is, met goeie rede, met baie opgewondenheid aangegryp. Wat min mense egter weet, is dat ‘n rugbyspeler van Hopefield, Ronnie Louw, reeds in 1976 teen die All Blacks uitgedraf het.

Te midde van groot gebeurtenisse in ons land wat destyds die nuus oorheers het, het hy homself letterlik in die geskiedenisboeke ingespeel.

Die volgende berig is verskaf deur Hendrik Snyders van Velddrif:

Ronnie Louw – 7 Julie 1976

Historici is van mening dat  beide plaaslike sporthelde en internasionale sportstêrre, nie net die suiwerheid van prestasie versinnebeeld nie maar ook daardie sake waaraan gemeenskappe waarde heg, verteenwoordig. Volgens die Amerikaner, Nicholas Villanueva, is individuele atlete nie net die draers van ‘n nasie se sport geskiedenis nie, maar word hulle  deur hul prestasies en reputasies tot nasionale simbole verhef.  Op 7 Julie 1976, 45 jaar gelede, het die Hopefieldse boorling, Ronnie Louw, nie net sy sy debuut op die internasionale rugby verhoog gemaak gemaak nie, maar ook daarmee saam, ‘n stuk Weskus en Swartland rugby- geskiedenis aan die wereld geopenbaar.

Op 26 Junie 1976, 10 dae na die uitbreek van die Soweto Opstand, verteenwoordig Louw die Proteas, die nasionale span van die SA Rugby Federasie teen die Luiperds, die verteenwoordigende span van die SA African Rugby Voetbal Raad (gestig 1935) op die Wolfson Stadion in Port Elizabeth. ’n Klipharde stryd, wat die Proteas wen met 17-9 danksy die uitstaande vertoning van Louw vanuit die laaste vesting. Sy bydrae by hierdie geleentheid sluit in ’n lang-afstand drie oor die lengte van die veld.

Sewe dae later, op 7 Julie, debuteer Louw op die internasionale rugby toneel toe hy die Proteas verteenwoordig teen Andy Leslie se besoekende All Blacks op die Goodwood Skou Gronde in Kaapstad. Alhoewel die All-Blacks hierdie wedstryd met 25-3 wen, het die Proteas goeie rekenskap van hulself gegee. Die daaropvolgende wedstrydverslae rapporteer dat Louw hom nie net goed teen internasionale opposisie voor 8,000 toeskouers gehandhaaf het nie, maar dat hy ook van die min uitblinkers, in ‘n wedstryd wat as ’n ‘humeurige affêre’ beskryf is, was.

In die daaropvolgende week, lewer Louw weereens ’n skitter vertoning teen die Luiperds, en word hy daarom verkies tot die SA Presidents XV vir hulle wedstryd teen die All Blacks – ’n historiese aangeleentheid aangesien dit die  Nieu-Seelanders se 100ste wedstryd in Suid Afrika was.  Alhoewel Louw kort voor die wedstryd sy moeder aan die dood afstaan, gaan hy voort om te beindruk voor 30,000 toeskouers. Alhoewel die All-Blacks ook hierdie wedstryd wen met 31-24, rapporteer die plaaslike media:

“Ronnie Louw who played so well against the All-Blacks on Goodwood, and who had carved holes in the Leopards in Port Elizabeth, had a great first half, but one inexplicable lapse in his goal area gave the All-Blacks a try in the second half. But clearly, he was a talented player “.

Oor die daaropvolgende periode, haal Louw die 1977 Springbok-proewe, en speel hy ook teen besoekende oorsese spanne  soos die Britse klub, Surrey (Mei 1979). In 1980, met die 11de Britse Leeus toer in Suid Afrika, kry hy ook sy grootse geleentheid – naamlik om teen die room van die Britse Eilande kragte te meet. Daar die SA Rugby Federasie nou ’n deel van die SA Rugby Raad was, was  die verkose Protea-span nou ’n veelrassige eerder as ’n suiwer ‘Kleurling-span’ soos in die verlede.  Louw se medespelers in hierdie verband sluit in bekende name soos  Westelike Provinsie spelers Hennie Bekker en Henning Van Aswegen.

Tenspyte van die feit dat die besoekers oor  ‘n sterbelaaide span beskik het, sukkel die Britse Leeus om die Proteas te oorheers en na ’n uitgerekte stryd, tree hulle uiteindelik as oorwinnaars uit die stryd met die telling op 15-6. Tenspyte van volgehoue goeie spel, dwing ouderdom Louw uiteindelik om die spel vaarwel toe te roep – sonder dat hy werklik die geleentheid gehad het om op meriete vir Suid Afrika verkies te kon word.

Ronnie Louw verteenwoordig ‘n sterk rugby tradisie wat alreeds in die laat 19de-eeu wortelgeskiet het en vandag voortgaan om te bloei. Na die stigting van die eerste formele klub, in die Weskus-Swartland streek,  naamlik Malmesbury Rugby Voetbal Klub in Augustus 1881, het  die stigting van ‘n reeks nuwe klubs met ‘n gereelde reelmaat gevolg:  Hopefield (1891), Moorreesburg (1898), Porterville (1899), Piketberg (1899), Saron (c.1909), Piketberg Mountain Breakers (c.1909), Darling Young Standards (1918), Eight Heavy Saldanha (1918), Vredenburg (1920), Velddrif  (1930), Swallows Mooreesburg (1928), Piketberg Rangers (1928), Hopefield Universals (1931), Darling (1939), Saldanha (1955), en Darling Young Stars (1959). Vanuit hierdie geledere sou ‘n magdom van talentvolle spelers na vore tree wat hul naam op beide nasionale en  internasionale vlak gevestig het. Hulle prestasies, net soos die van Ronnie Louw, verdien om met die bree publiek gedeel te word.

Please help us spread the word:

Please help us keep the project alive: